Added Aug 21, 2011
Laeveldse kunstenaar vertoon haar werk in Italië
Ilona Petzer skets 'n interessante prentjie oor haar ervaring in die kunstewêreld in Europa.
13 January 2012 | Aliche Bezuidenhout
NELSPRUIT - ‘n Plaaslike kunstenaar het onlangs saam met slegs twee ander Suid-Afrikaners haar werke tussen dié van wêreldbekendes by twee internasionale uitstallings in Italië vertoon. Net soos wat emosie ‘n belangrike rol in Ilona Petzer se werk speel, was die pad na die 2011 Internasionale Florence Biennale van Kontemporêre Kuns ‘n emosionele een met ‘n streng keuringsproses.
Laevelder het in 2010 berig oor haar reis na Parys, en sy meen dat dié besoek aan die Cite des Arts beslis vir haar deure oopgemaak het. "Ek is persoonlik deur die Biennale-komitee genooi om werk in te stuur vir keuring, en kon na ek goedgekeur is uiteindelik die uitstalling met nog een in Assisi kombineer," vertel sy.
Die Florence Biennale is in 1997 gestig as ‘n globale byeenkoms vir kunstenaars om hul diversiteit ten toon te stel. Die geleentheid word deur Unesco en die burgemeesters van beide Florence en die Toskane-provinsie ondersteun.
Petzer was een van meer as 600 kunstenaars van omtrent 70 lande wat genooi is om van 3 tot 11 Desember 2011 in ‘n indrukwekkende vertoonarea van oor die 11 000 vierkante meter uit te stal. "Meer as 1 500 mense het die opening bygewoon en kunstenaars uit ander genres was elke dag doenig met opvoerings, danse en voorlesings."
Sy vertel dat sy gelukkig ‘n goeie vriendin in Judith Mason het, wat haar tydens die keuringsproses leiding gegee het, en aangepor het om nie so ‘n geleentheid verby te laat gaan nie. "Daar was regtig benoude oomblikke, dan was ek weer verslae, verras en weer benoud." Maar dis ná Ilona met kunstenaars wat voorheen daar uitgestal het kontak gemaak het, wat sy uiteindelik besluit het om die reis mee te maak.
En maklik was dit nie juis nie, want al die werk wat gestuur is vir keuring, moes uitgestal word. "Dit is omvat in ‘n katalogus van 4kg wat aan my gestuur is," voeg sy by. Sy het egter ook addisionele werke gemaak en moes die vervoer en vertoon daarvan in gedagte hou, veral wat die grootte en medium aanbetref. "Daar was geen tema aan verbonde nie, slegs jou toegekende spasie en geen glas is toegelaat nie." Haar seun het ook vir ‘n tydjie saam met haar in die ondervinding gedeel en moes help met die saamstel en ophang van die werke.
Die ander twee Suid-Afrikaners wat hier uitgestal het is Colla Bosman van Pretoria en Grady Zeelie van die Kaap, saam met bekendes van reg oor die wêreld soos Jose Luis Cuevas van Mexico, Claudio Dantas van Brasilië, Richard MacDonald van die VSA en Wessel Huisman van Nederland. Die uitstalling was nie net uitstekende blootstelling nie, maar het weer op sy beurt deure oopgemaak. Ilona is na Mexico genooi en meen sy het baie geleer deur met ander kunstenaars te gesels en idees uit te ruil.
‘n Besige Desember was dit beslis, want sy is deur Arte Studio Ginestrelle genooi om aan ‘n internasionale uitstalling in Assisi deel te neem, wat net voor die FlorenceB iennale plaasgevind het - nóg ‘n Italiaanse kuns-en-kultuur-inisiatief wat deur die regering ondersteun word.
Ilona is ook saam met Maria Pienaar van Witrivier, een van vyf wie se werk gekies is om die afgelope Desember by die internasionale Eco Living-uitstalling in Mauritius uitgestal te word. "Ek is dankbaar vir die geleenthede en moedig elke Laeveldse kunstenaar aan om moontlikhede aan te gryp, dink groot en kyk ver!" sê sy en is trots om te kan sê dat twee medekunstenaars van die Laeveld, Erica Schoeman en Laura Bachelor in Januarie 2013 ook die Cite des Arts sal besoek.
Ilona is die stigter van die Laeveldse Kunsvereniging, werk tans aan ‘n solo-uitstalling hier in die Laeveld en in Pretoria, en is weer na die 2012-uitstalling in Assisi genooi, maar dié keer het vyf ander kunstenaars die kans om ook saam te gaan!
• Lees meer oor Ilona se reis in haar blog: . Sy is tans besig met met ‘n fotosamestelling van haar reis en deel dit graag met medekunstenaars.